Ek het hierdie uitdaging met groot skeptisisme begin en die eerste paar dae was baie moeilik want ek wou nie nog 'n taak in my besige dag inpas nie. My dae was oorvol, maar die Kaizen het gou 'n manier geword om die dag te begin.
Onnodig om te se, dit het ook 'n lewenswyse geword en ek het met groot opgewondenheid begin uitsien na die volgende dag se les. My dae is meer produktief en dit voel asof daar meer ure bygekom het. Ek sien met groot opgewondenheid uit na die nuwe jaar en alles wat dit bring.
Om te mediteer was aanvanklik rerig ERG. Voorheen sou ek dit ook afgemaak het as tydmors, maar ek kon deurdruk tot dit 'n belangrike deel van my dag geword het.
Soos ek aangegaan het met die lesse, het ek bewus geword dat my uitkyk op die lewe verander. Dit voel asof ek borrel! Ek kan hierdie nuwe energie in die regte rigting stuur en sodoende die beste uit die lewe haal. Dit is maar net die begin en daar is so baie om nog te leer.
Intussen het ek die moed gehad om vir 'n kursus in te skryf. Dit was 'n langverlore droom wat eendag gedurende die meditasie weer sy verskyning gemaak het. Nou het ek 'n duideliker prentjie van wat ek wil he en ek weet hoe om dit te bereik. Ook het ek nou die deursettingsvermoe en energie.
Die grootste uitdaging was om harmonie in ons huis te bring en het ek dit van die eerste dag af nagestreef. Met twee tieners wat gedurig mekaar aan die hare gryp, het die Desembervakansie soos 'n berg voor my gele. Noudat ek terugkyk, het ek ontdek dat dit werklik gebeur het! Ek staan nog steeds verstom, want ek weet dit is omdat EK verander het en dit het ook 'n goeie invloed op hulle gehad.
Almal is rustiger en ons kan vir die eerste keer in jare saam lag en gesels sonder om te twis - 'n ware wonderwerk.
Hannes, baie dankie vir hierdie wonderlike ervaring wat jy met ons gedeel het. Mag die Here voortgaan om jou en jou gesin te seen in alles wat julle aanpak.
If you like this article, please click on the `Digg` image below. I'd appreciate it!




